• Baby chameleon in Blaauwheim's garden.

Diertjie, gogga of gediertetjie?

Posted on Sun November 22, 2020.

Hulle kom oor die weg op twee, vier, ses of selfs agt bene, met of sonder vlerke en vere. Hulle vreet en word gevreet. Hulle is Blaauwheim se tuinbewoners.

 

Daar is sommer baie diertjies en gediertetjies in Blaauwheim se tuin en as ‘n mens mooi kyk, is die een nog meer fassinerend as die volgende. Hulle verskil so baie van mekaar dat ek dikwels oor Homo Sapiens wonder. Verskil ons ook so baie van mekaar?

Die mens is tweebenig, ‘n eienskap wat ons met voëls deel. Hier is ook vier-, ses- en agtpotiges en natuurlik ruspes en duisendpote (wat nie rêrig duisend pote het nie)!

Voëls is hier baie. Hier is gedurig voëlgesang en selfs snags hoor ‘n mens die uile. Duiwe, witogies, lysters, jan frederikke, bosbontrokkies en baie ander kom kuier gereeld. Ek het belowe dat hier altyd vir hulle water sal wees. Voëls wat daarvan hou om in die oopte water te drink en te bad, geniet die lopende water van die fonteintjie. Die wat skugter en sku is, kan by enige van die drie ander plekke hulle dors les. Verskeie spesies bou ook nes in Blaauwheim se tuin en maak hulle kleintjies hier groot. Voëls is sorgsame ouers vir hulle kleintjies.

Paddas, akkedisse en verkleurmannetjies tel onder die vierpotiges. Akkedisse bewaak soms hulle neste nadat die wyfie haar eiers gelê het. Die Kaapse dwergverkleurmannetjiewyfie (Bracypodion pumilum)skenk die lewe aan lewendige kleintjies maar sy het nie ‘n saak met hulle nie! Nadat ‘n kleintjie hom  uit die geboortesak bevry het, is hy op sy eie. Dit slaan my dronk hoe die piepklein diertjies dit tog regkry om te oorleef.

 

Die hardste werkers op die werf is sekerlik die insekte, die sespotiges. Spuit net die tuin nat en die miere dra vir ‘n vale eiers na veilige plekke. Ek is gek na bye. Hulle kolonies en korwe spreek van orde en samehorigheid. Ek plant met heuningbye se behoeftes in my agterkop en sorg dat daar altyd nektarryke blomme sowel as dié met volop stuifmeel beskikbaar is. Naaldekokers vlieg soos wafferse helikopters hier rond as hulle jag. Dit is ook die tyd van die jaar dat klein bruin torretjies (genus Anoplognathus) hulle verskyning maak. Kleindag het ons hulle krismisbesies genoem. Skoenlappers is ook nou volop maar hulle is soos die kennisse van wie se kinders jy nie hou nie. Ruspes vreet met die aptyt van tienerseuns na ‘n taai rugbywedstryd.

Gedurende November gewaar ons ook altyd spinnekopneste van die reënspinnekop (Palystes superciliosus) wat tussen ankertakkies hang. Die agtpotiges bou hierdie neste van allerlei blare, grassies en stokkies. Dit lyk vreedsaam, maar as jy mooi kyk, sien jy dat mevrou spinnekop in die nabyheid van die nes waghou. Sy sorg dat vyande nie haar kroos speldekop spinnekoppies kom ontvoer om te verorber nie. Haar voorkoms is genoeg om enige inbreker die skrik op die lyf te jaag.

Gogga maak vir baba bang? Soms. Nie altyd nie. Gaan kyk ‘n slag na die “klein vyf” en al hulle maats in jou tuin. As jy niks sien in die dag nie, neem 'n flits en gaan kyk in die nag. Berei jouself voor vir 'n hele klomp verassings!

Al die foto's wat in hierdie blog verskyn, is deur Johan en Jo-Anne Blaauw by Blaauwheim 5* Gastehuis geneem.