• Lente clivias in Blaauwheim 5* Gastehuis se woudtuin.

Lente by Blaauwheim

Posted by Jo-Anne on Tue October 6, 2020.

Lente is tyd vir vernuwing. Dit is ook 'n tyd om met groot verwagting te hoop op die toekoms.

2020 was 'n onderstebo, deurmekaar jaar. Ek dink dit is een waaarvan baie mense wil vergeet. Gelukkig is dit nou lente met bloeisels wat vrugte en knoppe wat blomme belowe. Dit is tyd vir hernude optimisme. Ons sien elke dag hoe vaal landskappe groen word en tuine ewe skielik vol kleur en lewe is. Sommige tuine is mooier as wat ek hulle al ooit gesien het. Die Wes-Kaap is nat en ek dink baie mense het gedurende die grendeltyd tuin toe gevlug as hulle kon. Ek het self baie in Blaauwheim se "woudtuin" gesit of in die grond gewerk.

"Dis heerlike lente, die winter's verby…"  Ek is seker hierdie liedjie het al onwillekeurig by baie van ons opgekom. Die vrolike woorde het elke jaar in talle skoolgange weergalm. Onthou jy jou weeklikse sangklas toe jy in die laerskool was? Dit was ook van die min kere dat die seuns saamgesing en nie die arme onderwyseres probeer ontsenu het nie. Die "ho-la-dri-hoe-a" is veral uit volle bors gesing!

Een van ons gunsteling lenteliedjies was "Al die veld is vrolik". Doris Brasch en (ek dink) Dawie Couzyn het dit gesing. Daarin het die koggelmannetjies feesgevier, die goggatjies galop en die miere gedans. Snags hoor ons nou die uile roep en vroegoggend praat lyster al. Blaauwheim se tuin het net verkleurmannetjies. Hulle geniet beslis die langer, warmer dae.

Hierdie outjie sit behoorlik tussen die jasmyn se blare. Ook die digter C. Louis Leipoldt het van Oktober gehou en dit die "mooiste, mooiste maand" genoem. "En oral in die tuin rond ruik jy sering en roos, jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos". Daar is min skoolkinders wat nie ook hierdie gedig moes memoriseer en voorgedra het nie - in die dae toe ons nog in standerd 5 was en nie graad 7 nie! 

Die lente beteken egter ook 'n genies en 'n geproes vir baie van ons. Omdat dit so nat is, het die ergste hooikoors hierdie jaar genadiglik weggebly. Niesbuie kan 'n mens enige plek oorval. Deesdae word jy omtrent aangegluur as jy sou waag om te nies.

W.E.G. Louw se antwoord sou eenvoudig wees: "Maar in die Boland is dit nou Oktobermaand."

Verbeel ek my of is die kleure van maskers ook eensklaps helderder, die mens se gemoed ligter?